SKOOL 1 - Babas

Beste ouers,

Julle as ouers wonder seker hoe die verskillende skole ontstaan het.

Skool 1 is gekoop in 2018 by ‘n Oupa van my skool. Die huis is eers uitverhuur, maar teen einde November 2018 is daar begin om die huis in ‘n baba skool te omskep. Die nodige bouplanne, hersoenering en verslapping van die 10m boulyn was reeds toe in plek en ons het met groot entoesiasme begin om ‘n droom van my te bewaarheid.

Teen die 4de Januarie 2019 het die baba skool sy deure oopgemaak. Die stoep gedeelte voor is toegebou en die kombuis, wat baie groot was, is kleiner gemaak. Met hierdie veranderinge, is die een klaskamer lekker ruim gemaak met baie beweegruimte vir die lyfies sodat daar meer as genoeg spasie sou wees om te leer kruip en loop.

Daar is uitgebreek, geverf en veranderinge aangebring om die huis te omskep in ‘n veilige hawe met ‘n huislike atmosfeer waar kinders gelukkig en geborge kan wees.

Tydens die verandering is daar ook by die bestaande motorhuis aangebou en dit is omskep in ‘n baie ruim en gerieflike klaskamer wat nou vir die 1 tot 2 jarige groep kleuters gebruik word.

Teen die einde van Maart 2020, net voor grendeltyd, is die meenthuis wat agter die bestaande skool was,  omskep in twee groot klaskamers.  Die uitbreiding sluit ook netjiese badkamers vir beide die kinders en die personeel in met lekker groot vensters om lig en lug in te laat.  Daar is ook ‘n lieflike speelarea geskep waar die kinders na hartelus kan speel en hulleself uitleef.

Die skool het CCTV kameras in elke klaskamer asook ‘n alarmstelsel vir maklike toegang tot beeldmateriaal indien ouers enige navrae het oor ‘n insident by die skool.

Skool 1 is baie naby my hart juis omdat ek ‘n jaar lank beplan het om alles honderd persent reg te doen. My visie was ‘n kindvriendelike, netjiese skool met die beste van alles en waar kinders altyd in ag geneem word en veilig voel!!

Ek is baie trots op Skool 1 en is elke dag dankbaar dat ek klein mensies kan help grootmaak en ‘n bydrae kan lewer in hulle reis tot onafhanklike, selfversekerde volwassenes wat hulle plek volstaan in die samelewing, maar met hulle voete plat op die aarde.  

 

Sel: 083 280 5682/ 062 614 3356

Adres: Meade Straat 47, George Suid, 6529